News & Media

News and media

SUID-KAAP SIT BESTE VOETJIE VOOR VIR NASIONALE JEUGSKOU

Suid-Afrika se grootste landbougeleentheid vir die jeug, die Old Mutual Insure Nasionale Jeugskoukampioenskappe, vind oor vier dae, van 30 September tot 3 Oktober, op George in die Suid-Kaap plaas. Die kampioenskappe word vanjaar vir die 19de keer aangebied, maar vir die eerste keer ooit in die Suid-Kaap. Meer as 400 deelnemers van al nege provinsies word verwag.

jeugskou program 2018

“Jaarliks is die sukses van hierdie kampioenskappe nie net te meet aan die hoë standaard van die deelnemers nie, maar ook aan die gees waarin hierdie deelnemers meeding,” vertel Breyton Milford, Voorsitter van die Nasionale Landbou Jeugvereniging. “Dit is ‘n unieke geleentheid waar die land se beste skoumanne en -dames wat reeds provinsiale kleure verwerf het, in aksie te sien sal wees.”

Deelnemers ding vanjaar in 15 kategorieë mee, naamlik: Vleisbeeste, suiwelbeeste, wolskape, vleisskape, vleisbokke, sybokke, melkbokke, wedvlugduiwe, sierduiwe, varke, kulinêre kuns, suiwelbereiding, konyne, pluimvee en perde.

Volgens Milford is ‘n nuwigheid vanjaar die betrokkenheid van voormalige jeugskoudeelnemers. Hulle sal as junior beoordelaars hul kennis en ervaring in die kampioenskappe terugploeg.

“Dit is belangrik dat hierdie kinders se passie vir diere bevorder word, omdat ons deur middel van jeugskou die volgende geslag van boere oplei. Ons is dankbaar dat Old Mutual Insure Agri as naamregteborg jeugskou as ‘n belegging in die toekoms van landbou beskou,” sê Milford.

Vir die publiek sal dit ‘n genotvolle plaasuitstappie wees waar hul kan ervaar hoe daar met diere gewerk moet word en met pluimvee geskou word. Hulle sal ook selfs kan sien hoe kaas en jogurt gemaak word. Die kampioenskappe, wat op die George Skouterrein plaasvind, sal gepaard gaan met stalletjies en vermaak vir oud en jonk. Toegang is gratis.

Vir meer inligting kontak gerus vir Breyton Milford by Breyton@agriexpo.co.za of Annaline van Wyk by admin@agbl.co.za