WATTER SUIWELPRODUK GAAN KONING KRAAI?
Nadat ‘n onbekende bokmelkkaas van Gauteng verlede jaar aangewys is as die 2010 Suiwelproduk van die Jaar, is alle oë vandag (31 Maart) op die 177ste Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe. Een-en-veertig plaaslike, sowel as internasionale beoordelaars moet in absolute stilte, in ‘n parfuumvrye omgewing en teen 18°C, besluit wie die SA Suiwelkampioene is en watter produkte die gesogte Qualité Toekenning waardig is. Verder het die 41 beoordelaars ook die gewigtige taak om gesamentlik te besluit watter produk die toptoekenning van Suiwelproduk van die Jaar verdien. Hierdie produk kan aangewys word uit enige een van die ses kategorieë wat beoordeel word. Dit kan ‘n kaas – hard, vars of romerig – botter, joghurt, gegeurde melk, suiwel nagereg of selfs ‘n watertand roomys wees.
“Met 833 inskrywings vanaf 77 groot en boetieksuiwelvervaardigers, is dit geen geringe taak om produkte uit te sonder waarvan die gehalte so uitstaande is, dat hulle bekroon kan word met hierdie gesogte titels nie” sê mnr Kobus Mulder, hoofbeoordelaar en Bestuurder : Suiwel van Agri-Expo wat die SA Suiwelkampioenskappe aanbied.
Een van die besluitnemers wat vandag sy buiging as beoodelaar gemaak het, is Vernon Manuel, die eerste student in 2005 van die Boergondië Kaasmaakbeurs. Hierdie Kaasmaakbeurs, geborg deur die Wes-Kaap Departement van Landbou, gee aan Wes Kaapse leerlingkaasmakers die geleentheid om hulle kaasmaakkennis te verbreed gedurende ’n studie- en opleidingsprogram in Boergondië, Frankryk. Nadat Manuel, ‘n boorling van Worcester, sy studies in voedseltegnologie voltooi het, sluit hy aan by ‘n bekende Paarlse bokmelkkkaasmakery as kwaliteitsbestuurder. Na sy studies in Boergondië maak hy merkwaardige kwaliteitsverbetering aan die kaasery se kase en ontwikkel ook ‘n nuwe kaas. Hy is tans die suiweltegnoloog by ‘n winkelgroep, wat bekend staan vir hul kwaliteitprodukte, waar hy verantwoordelik is vir die groep se kaaskwaliteit.
Die resultate van die Kampioenskappe word op 27 April 2011 tydens die Danisco Qualité Dinee aangekondig en kaasliefhebbers kan eerstehands hierdie top produkte by die 10de SA Kaasfees vanaf 29 April tot 2 Mei op Sandringham, Stellenbosch, halfpad tussen die Paarl en Kaapstad ervaar.
Vir meer inligting aangaande die SA Suiwelkampioenskappe en die SA Kaasfees, kontak Kobus Mulder by kobus@agriexpo.co.za of 021 975 4440 / 082 806 5093 of besoek www.cheesesa.co.za en www.cheesefestival.co.za
Uitgereik deur Agri-Expo
Kontak: Mariana Rabie
tel 021 975 4440 / 082 871 1114
mariana@agriexpo.co.za
|