SA KAASFEES VIER ‘N DEKADE VAN BOBAAS KAAS OP ‘N SPLINTERNUWE TERREIN
Die SA Kaasfees vier 10 jaar van watertand kaas en familiepret van Vrydag 29 April tot Maandag 2 Mei 2011 by ‘n opwindende nuwe terrein. Besoekers kan ‘n fynproewersfees te wagte wees met meer proe-ervarings as ooit tevore. Maak gereed vir ‘n fees met nuwe oemf waar kaas steeds die ster is.
Sandringham is gerieflik geleë halfpad tussen Kaapstad en die Paarl langs die N1, naby Stellenbosch. Met asemrowende uitsigte, oop ruimtes en verruklike sonsondergange, bied hierdie nuwe terrein besoekers ‘n onvergeetlike karnaval-ervaring met talle geïnspireerde uitbreidings op vorige feeste.
‘n Gedeelde passie vir kaas bring kosliefhebbers, produsente van boetiekprodukte en ander koskampioene byeen by ‘n enkele genotvolle geleentheid. Die Checkers Kaasemporium, die hoofattraksie in die Suiwelplein, bied jou die land se grootste seleksie van kaas onder een dak, en die glanspersoonlikhede van die Checkers Teater sal jou verras met die waagmoedige wyse waarop hulle kaas inspan. Laat die feestelike atmosfeer van die Karnavalpark jou lok na waar musikante luilekker tussen besoekers rondbeweeg; kies en koop jou gunsteling lekkernye of bekroonde wyne; of ontspan eenvoudig terwyl professionele kunstenaars die kleingoed by die Wilde Vrugtesap Kinderhoekie vermaak.
Neem ‘n ontdekkingsreis langs die Meanderroete waar koeie, skape en bokke die storie van melk vertel, of proe vars en handgemaakte produkte by die aardse plaasmark. Geniet dan die perfekte einde van ‘n perfekte dag by die Kaasfees: ‘n pragtige sonsondergang oor Tafelberg op die agtergrond, liplekker eetgoed en heerlike musiek by Sandringham se eie Waterfront.
Ter viering van die fees se 10de verjaardag bederf die organiseerders vanjaar die feesgangers deur nie die toegangskostes te verhoog nie. ‘n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar by Computicket en Checkers winkels (geen kaartjies by die hekke) teen R110 vir Saterdag en Sondag en R90 vir Vrydag en Maandag. Senior burgers betaal R70 en kinders 12-jaar en jonger se toegang is gratis. Feesure is daagliks van 10:00 tot 18:00 en tot 17:00 op die laaste dag.
Kontak Agri-Expo vir meer inligting by tel 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za of besoek www.cheesefestival.co.za
Uitgereik deur Marlene Truter Communications
Kontak: Marlene Truter
tel 083 294 6060
marlene@marlenetruter.co.za
Namens Agri-Expo
Kontak: Mariana Rabie
tel 021 975 4440 / 082 871 1114
mariana@agriexpo.co.za
|