SA KAASFEES VIER VANJAAR 10 JAAR VAN KAASSUKSES
Die immer gewilde SA Kaasfees vier van 29 April tot 2 Mei ‘n dekade van kaasgenot. Hierdie fees wat kaas se beuel blaas tot voordeel van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf, se gewildheid het jaarliks toegeneem grootliks as gevolg van die suiwer fokus op kaas in al sy gedaantes.
"Ons bied besoekers, oud of jonk, ‘n omvattende en interaktiewe ‘van die uier tot die tafel’ ervaring," verduidelik Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, die organiseerders van die fees. "Gunstige terugvoer van borge, uitstallers en besoekers herbevestig jaarliks die welslae van die fees se nougesette benadering om kaas met ‘n element van pret saam te snoer." Feesgangers word elke jaar aangemoedig om self ‘n koei te melk, om nuwe produkte wat by die fees bekendgestel word te proe, en om met kaas te eksperimenteer saam met van die land se voorste sjefs.
Die sukses van ‘n fees word onder andere gemeet aan sy vermoë om voortdurend die skares te lok en die Kaasfees se groei in terme van bywoningsgetalle is indrukwekkend: van 14 000 in 2002 tot 31 663 in 2010 (getalle is tydens die afgelope paar jaar beperk om feesgangers van ‘n hoë kwaliteit ervaring te verseker). "Natuurlik lê sukses vir ons ook daarin dat klein en groot kaasmakers die geleentheid gegun is om hul produkte bekend te stel en besoekers kon die verskeidenheid wat die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf bied, geniet," sê Ehlers. "Dit is werklik bemoedigend dat duisende verbruikers se verhouding met kaas versterk is en talle kaasmakers is dit eens dat die fees ‘n onontbeerlike rol gespeel het om hul wyer blootstelling te bied en so verkope aan te help".
Volgens Petrina Visser van Dalewood Fromage, een van die kleiner kaasmakerye, lê die sukses van die Kaasfees daarin dat dit ‘n daguitstappie is vir die hele familie - propvol vermaak vir ‘n ieder en ‘n elk. "Die SA Kaasfees het uitstekende blootstelling aan die diversiteit van plaaslike spesialiteitskase verleen en Dalewood Fromage, as ‘n outentieke landgoed-kaasmakery, het inderdaad gebaat by hierdie verhoogde bewustheid," meen sy.
Rian van der Merwe van Ladismith Kaasmaatskappy (een van die groter spelers in die suiwelbedryf) sê dat die fees hulle die geleentheid gebied het om hul produkte op ‘n effektiewe wyse ten toon te stel. “Ons beskou die Kaasfees as ‘n ‘unieke verkoopspunt’ vir ons produkte aangesien daar so ‘n wye spektrum van die publiek wat kaas verbruik, hier teenwoordig is," sê hy. "Die fees dra definitief by tot ‘n meer ingeligte kaasverbruiker wat natuurlik vir die bedryf in geheel positief is".
"Absa wens die organiseerders geluk met die aanbied van die 10de SA Kaasfees," sê Willem Nel, Streekbestuurder Absa Kleinsakebesigheid. "Die fokus van ons betrokkenheid by die Kaasfees was nog altyd om boetiek kaasmakers in staat te stel om by die fees uit te stal. Hierdie kaasmakers speel ‘n belangrike rol in terme van werkskepping in plattelandse areas en ons finansiële bydrae open nuwe bemarkings- en groeigeleenthede waarby hul werknemers dus ook baat," sê hy. Absa sal ook weer in vennootskap met die Pinotage Assosiasie besoekers ‘n besonderse ervaring van hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar bied.
Die Exhibition & Event Association van Suider-Afrika (EXSA) het die SA Kaasfees tydens twee geleenthede - 2007 en 2009 - as die Beste Uitstalling (groter as 12 000m2) van die Jaar vir Suider-Afrika gekroon.
Dit is duidelik dat hierdie geleentheid die Suid-Afrikaanse verbruiker se groeiende entoesiasme vir interessante en eksotiese kos-ervarings aanspreek. Landbouproduk-feeste of skoue, soos die SA Kaasfees, dien as kragtige bemarkingsmeganisme vir individue en maatskappye deurdat die kommunikasie tussen verbruiker en produsent verbeter word. Voortdurende verbetering en hoë vlakke van innovasie is dus deel van die wenresep.
‘n Opname wat tydens die 2010 SA Kaasfees gedoen is, bevestig die geldigheid van hierdie stelling. Resultate wys dat 86% van die 31 663 besoekers nuwe kase geproe het en dat 82% nuwe kaasmakers ontmoet het; 78% het nuwe kennis van kaas opgedoen, terwyl 92% aangedui het dat hulle ‘n groter verskeidenheid kase in die toekoms sal koop.
"Ten spyte van ‘n beperkte bemarkingsbegroting (Agri-Expo is ‘n nie-winsgewende organisasie) het die media werklik die fees omarm," sê Johan Ehlers. "Kos- en ander joernaliste is geïnspireer deur kaas en is deurgaans kreatief in hul dekking wat bydra dat verbruikers bewus raak van die verskeidenheid, beskikbaarheid en gebruike van kaas. Ons het doelbewus nie altyd net die fees bemark nie – kaas en sy interessante skeppers het gereeld die kollig gesteel".
"En dit is presies waarvoor ons gemik het met die SA Kaasfees – Agri-Expo se hoofdoel is om landbou te bevorder en om verbruikers bewus te maak van die direkte verband tussen dit wat op hul bord verskyn en die land se landbouprodusente".
Nuwe tuiste vir SA Kaasfees
Vanjaar se fees vind plaas by ‘n opwindende nuwe terrein wat deur Agri-Expo besit word, naamlik Sandringham. Hierdie terrein is gerieflik geleë langs die N1 halfpad tussen Kaapstad en die Paarl in die Stellenbosch omgewing.
‘n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar by Computicket en Checkers winkels (geen kaartjies by die hekke) teen R110 vir die naweeksdae en R90 vir Vrydag en Maandag. Senior burgers betaal R70 en kinders 12-jaar en jonger kom heeltemal gratis in. Die fees duur daagliks van 10:00 tot 18:00 en die laaste dag tot 17:00.
Kontak Agri-Expo vir meer inligting by tel 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.zaof besoek www.cheesefestival.co.za
Uitgereik deur Marlene Truter Communications
Kontak: Charlene Nieuwoudt
Tel: 083 666 1480
charlene@marlenetruter.co.za
Namens Agri-Expo
Kontak: Mariana Rabie
Tel: 021 975 4440 / 082 871 1114
mariana@agriexpo.co.za
|