home About Us Activities News Media Releases Contact Us Links
Shows & Expos
 
Annual Report 2008/2009
 
Go to cheesefestival.co.za
 
Go to cheesesa.co.za
 
Go to From the Earth
 
 
Go to agri world sa

BOBAAS BOTTER IS SUIWELKONING

‘n Aangesuurde botter van Ladismith Kaas is gisteraand (27 April) tydens die Danisco Qualité Dinee van die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe as 2011 se Suiwelproduk van die Jaar gekroon.  Veertien uithaler kwaliteitprodukte is met die gesaghebbende Qualité merk beloon, terwyl ‘n totaal van 91 suiwelprodukte ‘n welverdiende klopp die skouer gekry het en as SA Kampioene aangewys is. Vier verdienstelike leerlingkaasmakers het dan ook tydens hierdie glansgeleentheid gehoor dat hulle eersdaags hul vaardighede in Frankryk kan gaan slyp as deel van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die Wes-Kaapse en Boergondiese regerings.  Fondse vir hierdie kaasmakerbeurs is afkomstig van die Wes-Kaapse Departement Landbou.

SA Suiwelproduk van die Jaar
Ladismith Kaas se voortreflike aangesuurde botter het die gesogte titel as Suiwelproduk van die Jaar voor die neuse van 833 ander suiwelprodukte weggeraap.

Aangesuurde botter is nie so bekend aan die Suid-Afrikaanse publiek nie, maar hierdie spesiale botter word reeds vir eeue deur Europese sjefs en kosfundis gebruik.  Gedurende die vervaardigingsproses word ‘n kultuur by die vars gepasteuriseerde room gevoeg wat die geure verdiep en verryk.  Die geur is ook sterker aangesien aangesuurde botter veel minder sout bevat - 0,5% in vergelyking met die 1.7% van gewone botter.  ‘n Verdere voordeel van aangesuurde botter is dat dit makliker smeer as gevolg van die natuurlike deurligtingsproses. Ladismith Kaas, die innoverende suiwelmaatskappy van Ladismith in die Klein Karoo, het Suid-Afrikaners nou ‘n paar treë nader gebring aan verhoogde kulinêre genot deur die vervaardiging van hierdie uitstaande en bekroonde produk.

Qualité wenners
Die nou reeds bekende Qualité embleem dien as die verbruiker se waarmerk in terme van hoogstaande kwaliteit. Vanjaar het slegs veertien produkte daarin geslaag om hierdie hoogste eerbewys te ontvang.

Parmalat, een van die land se grootste suiwelprodusente, het nie minder nie as drie Qualité Toekennings vir hul Mature Cheddar, Simonsberg Extra Mature Cheddar en hul Royalty Stracciatella Aylesbury roomys verwerf.  Lancewood Holdings en Ladismith Kaas is kort op hul hakke met twee Qualité Toekennings elk.  Ander Qualité wenners wat elk een Qualité Toekennings verwerf het, sluit in Clover SA, DairyBelle, Fair Cape Dairies, Honeydew Dairies, Marcel’s Frozen Yoghurt, Puglia Cheese en Stonelees.

SA Kampioen-suiwelprodukte
Een en negentig suiwelprodukte is as SA Kampioene aangewys. In hierdie kategorie is Parmalat weer eens die voorloper met 12 kampioene, terwyl Lancewood Holdings in hul nek blaas met 9 kampioene en Fairfield Dairy en Fair Cape Dairies volg met 7 kampioene elk.  Fairview Cheese Company het 6 kampioene, terwyl Belnori Boutique Cheesery, DairyBelle en Clover SA elk met 5 kampioene spog. Ander kampioene sluit in Dalewood Fromage (3), De Pekelaar Kaas (3), Ladismith Cheese (3), Butlers Farmhouse Cheeses (2), Lausanne Dairies (2), Marcel's Frozen Yoghurt (2), Ovis Angelica (2), Puglia Cheese (2), Rhodes Food Group (2), Zandam Cheese (2), en Arista Dairies (1), Foxenburg (1), Hijke Cheese (1), Honeydew Dairies (1), Jasmyn Bokmelk (1), Klein River Cheese (1), Laerskool Buffeljagsrivier (1), La Montanara Dairy (1), La Rochelle Bokmelkkaas (1), Sonnendal (1), Stonelees (1), en Swissland Cheese (1).

Kaasmakers slyp hul vaardighede in Frankryk
Vier leerlingkaasmakers kry vanjaar die geleentheid om by die kaasmeesters van Europa, die Franse, te gaan kers opsteek.  David Jackson (Simonsberg Kaas), Jonathan Hendricks (Kasselshoop Kaas), Lezl Pietersen (Arista Dairies) en Andries Hendricks (All Seasons Dairy) vetrek later vanjaar na Boergondië vir praktiese opleiding by verskeie kaasmakerye, asook teoretiese onderrig wat bemarking en ander kommersiële aspekte van die bedryf insluit as deel van die Kaasmaker Beursskema.

Vernon Manual, een van die eerste studente wat die Boergondië Kaasmaker Beursskema-kursus voltooi het, was vanjaar vir die eerste keer ‘n beoordelaar by die SA Suiwelkampioenskappe. Manual is as suiweltegnoloog verbonde aan ‘n bekende kleinhandelsgroep waar hy verantwoordelik is vir die groep se kaaskwaliteit.  “Ek was verstom oor die groot verskeidenheid kaas wat vir die kompetisie ingeskryf is.  Baie van hierdie produkte word net op streeksvlak bemark en by een of twee plaasmarkte verkoop, maar hier kry jy die groter prentjie van die omvang van die SA kaasbedryf,” sê hy.

Kompetisie lok vervaardigers landwyd
Die kompetisie is vanjaar vir die 177ste keer aangebied en ‘n totaal van 77 groot en boetiekvervaardigers het hul produkte ingeskryf.  "Alhoewel daar nie ‘n noemenswaardige groei in die aantal inskrywings was nie, het die klem op die belangrikheid van deelname vergroot" sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, organiseerders van die SA Suiwelkampioenskappe. "Beide groot en klein vervaardigers gebruik die kompetisie as maatstaf vir kwaliteit, terwyl kleinhandelaars en verspreiders waardevolle insig kry in terme van watter produkte met trots bemark kan word."

"Die 41 plaaslike en internasionale suiwelkundiges wat as beoordelaars opgetree het, is dit eens dat die verpakking en voorkoms van die produkte van boetiekkaasmakers merkwaardige verbetering toon,” sê Kobus Mulder, hoofbeoordelaar en Suiwelbestuurder by Agri-Expo.  “Verbruikers koop mos eerstens met hulle oë en ‘n aantreklike en vars produk kry altyd aandag."

Besoekers aan die 10de SA Kaasfees wat plaasvind van 29 April tot 2 Mei kan voor in die ry staan om sommige van hierdie wenprodukte te proe.  Die fees, wat beloof om die grootste en beste ooit te wees, vind plaas by Sandringham, langs die N1, halfpad tussen Kaapstad en die Paarl (uitgang 39).

Vir meer inligting aangaande die SA Suiwelkampioenskappe en die SA Kaasfees, kontak Kobus Mulder by kobus@agriexpo.co.za of 021 975 4440 / 082 806 5093 of besoek www.cheesesa.co.za en www.cheesefestival.co.za


Uitgereik deur Marlene Truter Communications

Kontak: Yolandi de Wet
charlene@marlenetruter.co.za

Namens Agri-Expo
Kontak: Mariana Rabie
Tel: 021 975 4440 / 082 871 1114
mariana@agriexpo.co.za