DIE PLATTELAND BETOWER KAPENAARS
|
| |
Kapenaars is die afgelope naweek (16-18 Oktober) verras met 'n ekspo van 'n ander aard toe die platteland hom in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum kom tuismaak het. Die From the Earth ekspo het jonk en oud gelok en betower met alles wat na aan die aarde en natuurlik heerlik is.
"Die ekspo het daarin geslaag om besoekers nie net te vermaak nie, maar ook bekend te stel aan die verskillende spelers in die landbougemeenskap," sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, die organiseerder van hierdie geleentheid. "Die internasionale neiging is dat stadsbewoners toenemend belangstel om 'n natuurliker en aardse lewenstyl te omhels, en From the Earth het verskeie opsies na die hart van die stad gebring om dit meer toeganklik vir die stedeling te maak." Besoekers aan die fees kon hul spense volmaak met smullekker handgemaakte produkte, maar kon ook kennis en talle doen-dit-self produkte huistoe neem om hul eie groente- en kruietuine staan te maak en op te kikker. "Mense wat in die stedelike dele van ons land woon is nie meer bloot net tevrede om vars produkte by plaasmarkte te koop nie. Hulle wil hul eie groente kweek en self kaasmaak en hierdie ekspo het aan almal die geleentheid gebied om die plattelandse lewenstyl 'n werklikheid te maak," sê Ehlers.
Die meer as 120 diere en byna 90 geveerdes, insluitend robuuste beeste, skattige babavarkies en die meer eksotiese alpakkas en emoes, het die kleinspan soos 'n magneet getrek. Janice Jamieson van Alpaca Felt sê: "Ek is regtig verras om te sien hoeveel kinders nog nooit plaasdiere aangeraak het nie – die ekspo was die ideale geleentheid om die jongspan hierdie gesonde blootstelling te gee."
Te oordeel aan besoekers se entoesiastiese terugvoering en die gelaaide mandjies waarmee hulle vertrek het, het From the Earth in sy doel geslaag om stedelinge weer in kontak te bring met die wonder van die plaas en om hulle te herinner aan die onontbeerlike rol wat landbou in hul daaglikse lewens speel.
Uitgereik deur Marlene Truter Communication Kontak: Charlene Nieuwoudt 083 666 1480
Namens Agri-Expo Kontak: Mariana Rabie 021 975 4440 082 871 1114 |
| |
| |
|