Sedert agt botter-inskrywings in die eerste suiwelkompetisie van 1834 ter plaatse beoordeel is, het die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe sodanig gegroei dat daar vandag (2 April) nie minder nie as 770 inskrywings van 76 landwye vervaardigers in die Belville Burgersentrum beoordeel word. Vanjaar is ook die eerste jaar dat inskrywings van ‘n ander Afrikaland, Kenia, aanvaar is.
Kobus Mulder, Suid-Afrika se enigste internasionale kaasbeoordelaar wat reeds in Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Amerika by verskeie wêreldkaaskampioenskappe beoordeel het, lei ‘n groep van 35 beoordelaars vanuit die geledere van die land se voorste suiweltegnoloë en -wetenskaplikes. Volgens Mulder – suiwelbestuurder van Agri-Expo wat die SA Suiwelkampioenskappe aanbied – word suiwelprodukte in vyf kategorieë beoordeel, naamlik botter, kaas, joghurt, suurmelk en roomys. “Ons sien vanjaar ‘n buitengewone toename in die hoeveelheid inskrywings van bokmelkkaas – daar is 70 kaasinskrywings in hierdie kategorie teenoor die 14 van 2006,” sê hy. “Een van die redes is die verbruiker se groeiende bewustheid van die gesondheidsaspekte van bokmelkkaas.”
Verdere groei word ervaar in die inskrywings van hardekase. “Meer sjefs en ander kosbereiders gebruik hardekase as ‘n bestanddeel in kos om smaak en tekstuur aan geregte te gee.”
Beoordeling vind plaas volgens ‘n internasionale 30-punt stelsel met dieselfde reëls as ander wêreldkompetisies. Oor die vraag of Suid-Afrika se produkte met hul internasionale eweknieë kan meeding: “Die kwaliteit van kaas in SA het in die laaste twee jaar ‘n dramatiese verbetering getoon en vervaardigers bied ook tans die verbruiker ‘n wyer verskeidenheid. Ook ons plaaslike joghurt is nou op wêreldstandaard,” meen Mulder.
Nuuskieriges sal vir die uitslae van hierdie outoritêre kompetisie moet wag tot na die Danisco Qualité Dinee wat op 22 April in Stellenbosch gehou word. Tydens hierdie glansbyeenkoms word die SA Suiwelproduk van die Jaar aangewys, asook die suiwelkampioene wat waardig is om die Qualité merk van hoogstaande kwaliteit te dra.
Vir ‘n eerstehandse ervaring van hierdie top suiwelprodukte en ‘n ontmoeting met die onderskeie kaasmeesters, kan kaasliefhebbers gerus ‘n draai maak by die SA Kaasfees wat plaasvind van 24-27 April 2009 op Bien Donné tussen die Paarl en Franschhoek.
Vir verdere inligting omtrent die SA Suiwelkampioenskappe of die SA Kaasfees, kontak Kobus Mulder by tel
021 975 4440 of besoek
www.cheesesa.co.za en
www.cheesefestival.co.za