AgriExpo Annual Report
Jaarverslag Argiewe

Laai die Jaarverslag in PDF formaat af. Kliek hier

Suiwelbedryf

Qualité kaas en Veritas wynproeë

Die drie jaarlikse openbare proeë van kaas wat Qualité Toekennings ontvang het, en as deel van die Veritas wynproegeleenthede in Kaapstad, Johannesburg en Durban aangebied word, is uiters suksesvol.  Die doel van hierdie proeë is om die jaar se beste kase ten toon te stel en om die Qualité Toekennings as ‘n betroubare aanwyser van suiwelkwaliteit te bevorder.  Verbruikers en senior personeel van die gasvryheidsbedryf woon die proegeleenthede by en kommersiële kontakte word aan kaasmakerye aangestuur.

 

Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe

Die organisering en aanbied van die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe vergelyk uitstekend met soortgelyke internasionale kompetisies.  Vanjaar se beoordeling het op 31 Maart by die Belville Burgersentrum plaasgevind. Inskrywings vir hierdie kompetisie het gestabiliseer, maar die 875 inskrywings vir vanjaar se kompetisie is steeds bevredigend en die feit dat 77 suiwelvervaardigers hul produkte ingeskryf het, dui daarop dat die Kampioenskappe hoog geag word.

Nuwe klasse vir suiwelnagereg het rekordinskrywings gelok, terwyl die gewildheid van bokmelkprodukte steeds in die aantal inskrywings gereflekteer word.  ‘n Verdere voordeel van deelname is die waardevolle terugvoer vanaf die beoordelaars wat na die vervaardigers aangestuur word.  Hierdie kommentaar stel vervaardigers in staat om hul produkte met die van mededingers te vergelyk en derhalwe te verbeter.  Vervaardigers gebruik ook toenemend hul toekennings as deel van hul bemarkingstrategie deur die SA Kampioen en Qualité logos op die verpakking aan te bring.

Agri Expo
Brian Gersty, internasionale beoordelaar van
Nantwich, Cheshire, England plaaslike
beoordelaars Suzy O’Regan en Vernon Manuel

‘n Internasionale beoordelaar asook ‘n vorige student wat deel was van die Boergondië Kaasmaak Uitruilskema is genooi om as beoordelaars op te tree en hul deelname het goeie publisiteit verseker.

Die beoordelaars se besluit om vanjaar se Produk van die Jaar titel aan ‘n aangesuurde botter van Ladismith Kaas toe te ken was ‘n verrassing, maar het tot gevolg gehad dat die produk weer op nasionale vlak vrygestel is – ‘n aanduiding van die invloed wat die Kampioenskappe op kommersiële vlak het.

Die 2010 SA Suiwelkampioenskappe is deur EXSA aangewys as die Mees Onvergeetlike Geleentheid van die Jaar – ‘n uitstaande prestasie en aanduiding van die kwaliteit van hierdie kompetisie.

 

Die Danisco Qualité Toekenningsdinee

Die feit dat Danisco ingestem het om die Qualité Toekenningsdinee vir die vierde jaar te borg, is bewys van die waarde en standaard van hierdie uitstekende geleentheid.  Die dinee is op 27 April by Bloemhof Hoër Meisieskool in Stellenbosch aangebied en word erken as die voorste suiwelgeleentheid in Suid-Afrika.

Hierdie geleentheid, waar die SA Kampioene, Qualité Toekennings en Suiwelproduk van die Jaar aangewys is, is deur 420 gaste vanuit al die sektore van die suiwelbedryf bygewoon.  Die glansaand, met vermaak, goeie kos en wyn en onverwagte verrasssings, het goeie mediadekking in sowel die landbou- as bedryfsmedia ontvang.

 
Agri Expo
Qualité Wenners
Agter v.l.n.r: Danie Nel (Parmalat SA), Francois Colyn (Clover SA), Morne Malan (Lancewood Holdings), Francois
van Zyl (DairyBelle), Arnold Nieuwoudt (Parmalat SA), Johan Ehlers (CEO Agri-Expo), Davide Ostuni (Puglia
Cheese cc), Jill de Kock (Parmalat SA), Jacques Coetzee (Ladismith Cheese), Cecil Hambridge
(Ladismith Cheese), Arinda Jones (Fair Cape Dairies)

Voor v.l.n.r:  Warren Bouwen (Stonelees Dairy), Henry Williams (Lancewood Holdings), Zanelle Sutherland
(Marcel’s Frozen Yoghurt), Alan Taylor (Ladismith Cheese), Haley Gardner (Honeydew Dairies)
Agri Expo
Boergondië Beurswenners

Agter v.l.n.r:
David Jackson (Simonsberg Cheese),
Kobus Mulder (Agri-Expo Dairy Manager),
Jonathan Hendricks (Kasselhoop Cheese)

Voor v.l.n.r: Lezl Pietersen (Arista Dairies),
Andries Hendricks (All Seasons Dairy)
 
Agri Expo
Alan Taylor ontvang die trofee namens Ladismith Kaas vir die Suiwelproduk van die Jaar
Agri Expo
Ladismith Kaas se aangesuurde botter word aangewys as die Suiwelproduk van die Jaar
 

Afrikaprojekte

Die volgende projekte is gedurende die afgelope jaar deur Agri-Expo vir SPEAR BK bestuur:

» Toerus van ‘n suiwellaboratorium in Beira en opleiding vir personeel;

» Individuele konsultasie met suiwelverwerkers in die Manica provinsie in Mosambiek;

» Opleiding van ‘n Mosambiekse veeartsenykundige in terme van higiëniese melkproduksie en -verwerking;

» Ontwerp, bou en toerus van ‘n melkverwerkingsaanleg in Beira;

» Keuring en opleiding van ses kaasmakers van Mosambiek, Malawi, Tanzanië en Zambië in Boergondië, Frankryk;

» Individuele konsultasie met melkverwerkers in Malawi en Zambië oor produkkwaliteit.

 

Internasionale kaaskompetisies

Die 2010 World Cheese Awards is in Manchester aangebied en Suid-Afrikaanse kase het weer eens ‘n aantal goue en silwer medaljes verower. Agri-Expo was Suid-Afrika se verteenwoordiger vir hierdie kompetisie en het al die logistieke aspekte van die inskrywing van plaaslike kase hanteer.

 

Kleinhandelsopleiding

Vier drie-dag opleidingsessies is deur Agri-Expo se Bestuurder: Suiwel aan die personeel van Suid-Afrika se grootste supermarkgroep gebied. Om personeel elders in die land dieselfde opleiding te bied, gebruik dié groep die opleidingsvideo wat gedurende die vorige finansiële jaar gemaak is.

 

Adviserende en konsultasiedienste

Groot en medium kaasmakerye het gereeld van Agri-Expo se konsultsasiediens gebruik gemaak.  Kwaliteitsprobleme met suiwelprodukte is reggestel en ondersteuning is gebied in terme van die bekendstelling van nuwe produkte en fabrieksuitbreidings.  ‘n Aantal lesings is ook by die sjef-opleidingskool gelewer.

 

Wes-Kaap/Boergondië Kaasmakersbeurs

Kaasmaakstudente van die Centre de Formation Professionnelle et de Promotion Agricole in Davayé, Boergondië, het die Wes-Kaap gedurende die jaar besoek om die Kaasfees by te woon en verskeie kaasmakerye te besoek.  Vier Wes-Kaapse kaasmakers het Boergondië in September besoek en twee kaasmakers van Tanzanië en Kenia het by hulle aangesluit.  Die samewerkingsooreenkoms bly steeds hoogs suksesvol en vorige studente se kaas toon groot verbetering.  Die samewerkingsooreenkoms tussen die Boergondiese en Wes-Kaapse regerings is vir ‘n verdere vyf jaar hernu – goeie nuus vir plaaslike kaasmakers.

 

SA Kaasfees

Agri Expo
Die Kaasfees se pretbeeld vir sy 10de
verjaardag het baie aandag getrek

Die besluit om Sandringham se hekke vir kaasliefhebbers te open om die 10de SA Kaasfees gedurende die naweek van 29 April tot 2 Mei te vier, het meer as 31 600 besoekers, asook die meeste uitstallers in die geskiedenis van die fees bymekaar gebring.

Die Sandringham terrein is in vier feesareas opgedeel – die Suiwelplein, Karnavalpark, Waterfront en Meander en die grootste kaasemporium nóg met ‘n vloeroppervlak van 3 200m². Daar was soveel kaasstalletjies dat die enorme verskeidenheid kase by ‘n totale bedieningsarea van 212m geproe kon word.  Die vergrote Mall met Pinotage- en olyf-ervarings, spysenieringstalletjies in die vier areas, aanbiedings in die kosteater, ‘n leefstyl werkwinkel en die melkfabriek het verseker dat besoekers die hele dag by die fees deurgebring het. Naastenby 8 000 aanhangers van Nataniël, Brümilda van Rensburg, Shaleen Surtie Richards en Jenny Morris het daagliks by Checkers se Lewende Tafel aangesit vir topgehalte vermaak, eethappies en modes van befaamde ontwerpers.

Hierdie jaar het Agri-Expo se finansiële vennote weer hulle lojaliteit bewys.  Verskeie borge stap reeds ‘n lang pad saam met die fees, terwyl nuwe borge ook betrokke geraak het.  Ons wil graag dankie sê aan elke borg of verskaffer wat op welke wyse ook bygedra het tot die sukses van die 10de SA Kaasfees.

Agri Expo
Besoekers in die Absa Mall waar hulle veral die
Pinotage and Olyf Ervarings geniet het

Agri Expo
Liezel van der Westhuizen ontvang ‘n stukkie proe-kaas
van Dean Stockenstrom en Mike Eybers

Agri Expo
Jenny Morris, Shaleen Surtie Richards, Nataniël en
Brumilda van Rensburg as aanbieders by Checkers se
Lewende Tafel
Agri Expo
Randall Wicomb  het saam met Alet Erasmus (Creative
cuisine pantry) en Beyers Truter (Beyerskloof) in die
DStv Kosteater opgetree
Agri Expo
Die instaphek op Sandringham, nuwe tuiste van die
SA Kaasfees

Agri Expo
'n Glas Fleckvieh melk by die Santam Landbou
Melkfabriek

‘n Groot eer het ook die SA Kaasfees te beurt geval toe Premier Helen Zille tydens die 5de Internasionale Streeks-leierskongres die SA Kaasfees as ‘n Wes-Kaapse projek vir volhoubare voedselsekuriteit voorgestel het. Die projek is aanvaar en die ses betrokke provinsies, naamlik die Wes-Kaap, Shandong, Beiere, Georgia, Quebec en “Upper Austria”, sal poog om die projek in die volgende vyf jaar te ondersteun. Vanjaar was ons bevoorreg om ‘n verskeidenheid  kase en ‘n kaasmaker van Beiere by die SA Kaasfees te kon verwelkom.

Agri Expo
Marc Friedrich van Marc’s Mediterranean Cuisine in die Paarl
ontvang sy trofee van Min. Gerrit van Rensburg (Wes-Kaap
Minister van Landbou)

Beoordelaars van EXSA (Exhibition and Event Association of Southern Africa) het die fees en stalletjies beoordeel.  Pryse is tydens die Uitstallersontbyt deur Min. Gerrit van Rensburg aan die volgende wenners oorhandig:

Portobello / Rhodes Foods * Nasionale kaas
Arista Dairies * Boetiekkaas
Boland Cellar * Wyn
Pesto Princess Foods * Verwante produkte
Marc’s Mediterranean Cuisine * Spyseniering
Simmentaler/Fleckvieh * Melkfabriek

Die bemarkings- en mediaveldtog het die klem hoofsaaklik op die 10de verjaardag van die fees, asook die verskuiwing na ‘n nuwe terrein geplaas en dekking ter waarde van R19,6m is gegenereer.

Kaasliefhebbers, uitstallers en borge was dit eens:die SA Kaasfees se nuwe terrein is tops!