AgriExpo Annual Report
Jaarverslag Argiewe

Laai die Jaarverslag in PDF formaat af. Kliek hier

Ledeskoue

Landbouskougenootskappe

Agri-Expo tree op as borg by 24 landbouskoue wat lede van die Genootskap is. Hierdie ledeskoue bevorder vir baie jare die beeld van landbou en Agri-Expo is trots op wat hulle weereens hierdie jaar vermag het. 

Vyf nasionale, 20 provinsiale, twee interprovinsiale, 28 streeks en 31 klubkampioenskappe is onder die Agri-Expo vaandel by ledeskoue aangebied. Benewens hierdie aanbiedinge is daar ook jeug-, pluimveeskoue en opkomende boereskoue aangebied.  Telersgenootskappe se terugvoer was baie positief en die belangstelling om in die Wes-Kaap te skou, groei geweldig.

Die algemene jaarvergadering van ledeskoue het vanjaar op 20 Julie te Moorreesburg plaasgevind. Tydens hierdie vergadering word skoudatums bespreek asook uitdagings in die skoubedryf en enige ander aangeleenthede wat betrekking het op skoue.

Agri-Expo bied hierdie vergadering op ‘n rotasiebasis by verskillende landbougenootskappe aan. Die doel hiervan is dat skoue mekaar se fasiliteite kan verken en daaruit leer..

Landbouskoue in die Wes-Kaap is ‘n intergale deel van die gemeenskap op die platteland en vervul ‘n baie groot rol deur landbouprodukte teen mekaar te meet en sodoende die kwaliteit daarvan te verbeter. 

Agri-Expo is trots op die wyse waarop hierdie 24 skoue landbou by die algemene publiek bevorder en bedank elke vrywilliger wat op ‘n komitee of bestuur dien vir hul tyd wat afgestaan word om landbou opwindend aan die publiek bekend te stel.

Agri Expo
‘n Walliese Ponie gedryf deur ‘n kind tydens Villiersdorp Skou
Agri Expo
‘n Rare verskynsel wat nog net op ons plattelandse skoue gesien
kan word. ‘n span Nguni osse tydens Porterville skou

Wes-Kaap Jonghoenderskou

Agri Expo
Een van die deelnemers tydens vanjaar se jonghoender skou,
William Juul

Die doel van die jaarlikse Jonghoenderskou is om vertoners die geleentheid te gee om hul jong hoenders teen mekaar te laat meeding. In die verlede was hierdie ‘n een-dag skou, maar as proeflopie het die komitee besluit om dit hierdie jaar oor twee dae aan te bied. Hierdie besluit het groot byval gevind, veral by die lede wat lang afstande moet ry en dit het tot gevolg gehad dat vertoners van so ver as Beaufort-Wes, Prince Albert, Williston en Oudtshoorn gekom het om die skou te ondersteun. Die 36 vertoners se 709 inskrywings het 63 verskillende hoender- en eendrasse verteenwoordig. Oor die algemeen was die beoordelaars baie tevrede met die kondisie en gehalte van die pluimvee en heelwat lede van die publiek het daar kom inloer.

Ter voorbereiding vir die komende Wes-Kaap Kampioenskappe het die jeugskou-leerlinge hul teoretiese en praktiese eksamens afgelê en eksaminatore was baie in hul skik met die resultate.

 

Wes-Kaap Pluimvee Klubskou

Die jaarlikse Wes-Kaap Pluimvee Klubskou is vanaf 9 tot 11 Junie 2011 te Kleinplasie, Worcester aangebied en ‘n totaal van 1 642 inskrywings is van 51 vertoners ontvang. Hierdie inskrywings het 82 verskillende rasse hoenders en swemvoëls verteenwoordig. Inskrywings van so ver as Ermelo en Rustenburg is ontvang. Die beoordelaars was vol lof vir die goed voorbereide hoenders wat ingeskryf is, die algemene kondisie en ook vir die gehalte van die hoenders. Agri-Expo is trots op elke vertoner wat die moeite gedoen het om deel te neem.

 

Wes-Kaap Veteraantrekker- en enjinklubskou

Die Jaarlikse Veteraantrekker- en enjinklubskou is op Moorreesburg aangebied op 6 & 7 Augustus. Hierdie instansie bewaar die geskiedenis van ons landboubedrywighede en daarom tree Agri-Expo as hoofborg op by die jaarlikse skou. Vanjaar het meer as 4 000 besoekers die voorreg gehad om ongeveer 250 veteraantrekkers, 50 stilstaande enjins, groot hoeveelhede plaasimplemente, twee werkende smidswinkels, twee stoommasjiene en vele meer te sien.  Baie nuwe lede het tydens hierdie ekspo by die klub aangesluit, wat aandui dat die entoesiasme en ingesteldheid t.o.v. bewaring wat deur die uitstallings en program opgewek word van onskatbare waarde is. ‘n Wisseltrofee vir die beste klein klub in die Wes-Kaap is deur Agri-Expo aan die klub beskikbaar gestel om as aansporing te dien vir die mees entoesiastiese klein klub. Vanjaar is hierdie trofee deur die Villiersdorp Klub verower.

Agri Expo
Veteraan vragmotors was vanjaar een van die groot trekpleisters by die skou op
Moorreesburg
Agri Expo
 ‘n Ou ysterwiel trekker, in ‘n baie goeie toestand vermaak die toeskouers