AgriExpo Annual Report
Jaarverslag Argiewe

Laai die Jaarverslag in PDF formaat af. Kliek hier

Jeug

Jeugskoue

Die Wes-Kaap Landbou Jeugvereniging is ‘n onafhanklike organisasie met sy eie grondwet, bestuur en gedragsreëls. Agri-Expo tree op as hoofborg van hierdie vereniging. Vanjaar het die vereniging ses Streekskoue aangebied met 535 leerders wat deelgeneem het - Wynland 97, Eden 65, Cederberg 162, Overberg 55, Swartland 58, Boland 98.

Hierdie leerders neem deel aan die volgende afdelings:
Wynland: Vleisbees, Suiwelbees, Melkbok, Boerbok, Wolskaap en Vleisskaap
Eden: Vleisbees, Suiwelbees, Wolskaap, Vleisskaap, Pluimvee en Perde
Cederberg: Melkbok, Boerbok, Angorabok, Wolskaap, Vleisskaap en Huisvlyt
Overberg: Vleisbees, Suiwelbees, Wolskaap en Vleisskaap
Swartland: Vleisbees, Wolskaap, Vleisskaap, Melkbok, Boerbok en Angorabokke
Boland: Vleisbees, Suiwelbees, Wolskaap, Vleisskaap en Melkbok

Ontwikkelingskursusse is vanjaar op Lutzville en Buffeljagsrivier aangebied. Hierdie kursusse help dat daar nuwe deelnemers tot die jeugskou toetree en dat jeugskoue sodoende bevorder word.

Die Wes-Kaap Kampioenskappe is op Worcester aangebied en die standaard van die deelnemers reg oor die Wes-Kaap was van hoogstaande gehalte.

Die Nasionale Kampioenskappe is in September te Morgenzon Landbou Akademie aangebied. Die Wes-Kaap span het soos die afgelope vyf jaar die botoon gevoer en is weereens as die kampioene van hierdie kompetisie gekroon. Die span het 15 goue medaljes, 13 silwer en 8 brons verower. Agri-Expo wens elke leerder geluk wat betrokke is by hierdie inisiatief en baie tyd afstaan ter voorbereiding van kampioenskappe. Ons glo dat daarin geslaag word om ‘n voorliefde vir diere te kweek en ‘n besliste ondersteuningsbasis vir die toekoms van Landbou op te bou.

Agri Expo

AJ van Wyk en Emile de Jager  van die Wes-Kaap wat in Morgenzon aan die Nasionale
Kampioenskappe deelgeneem het

Agri Expo
Anneline van Wyk, Breyton Milford (Voorsitter Wes-Kaap Landbou Jeugvereniging), Ansa
Ferreira en Elmari Bosman ontvang die die trofee namens die Wes-Kaap Jeugskou span
wat weereens met die louere weggestap het tydens die Nasionale Kampioenskappe te
Morgenzon
 

Landbouskole

Agri-Expo erken die finansiële druk wat opvoedkundige instellings vandag ervaar en het dit goed gedink om spesifiek landbouskole volgens hul behoeftes te ondersteun.  Lenings word aan die drie landbouskole in die Wes-Kaap beskikbaar gestel om die standaard van die skool te verbeter en sodoende gehalte onderrig aan leerders te gee.

Gevolglik het Agri-Expo vanjaar vir Augsburg Landbou Gimnasium van ‘n lening voorsien om sitrus aan te plant. Hierdie projek sal help dat die skool se plaas in die toekoms meer inkomste genereer sodat behoeftige kinders hierdeur gehelp kan word, opgraderings gedoen kan word en die hulpbronne op die plaas beter benut word.  ‘n Projek van hierdie aard help ook om leerders te leer hoe om ‘n boord te vestig en te bestuur.

Agri-Expo ondersteun jaarliks die drie landbouskole in die Wes-Kaap met beurstoekennings tydens hul prysuitdelings.  Hierdie beurse gaan aan die beste leerders in elke graad, asook aan leerders wat bo hul vermoë presteer het.  Agri-Expo is trots op wat by hierdie drie skole in die Wes-Kaap vermag word.