Algemeen
Vroue Landbouvereniging Kaapland
Die VLVK se 81ste jaarkongres is vanaf 17 tot 19 Augustus 2010 in Kimberley aangebied. Die Genootskap het voortgebou op sy jarelange ondersteuning aan die Vereniging en ‘n borgskap is weer beskikbaar gestel vir die aanbied van hul kongres. Goeie erkenning vir die ondersteuning word gegee op VLVK se webtuiste, in gedrukte dokumente en by die kongres self.
Die Genootskap het weer sy trofeë aan Sirkel Tygerberg beskikbaar gestel vir toekenning by hulle jaarlikse skou. Die Bemarkingsbestuurder het die opening van hulle 44ste Sirkelkongres in Maart op Eensgezind, Klipheuwel bygewoon. Die kongres is deur VLV Durbanville aangebied, wat ook by hierdie geleentheid hulle 80ste verjaardag gevier het.
Landbouskrywers SA
![]() |
In Oktober het Agri-Expo administratiewe ondersteuning gebied tydens die Landbouskrywers SA se jaarlikse fotokompetisie. Mnr Theuns Botha is aangewys as Landboufotograaf van die Jaar met hierdie wenfoto. |
Bewaring
Die Genootskap ondersteun twee WWF projekte met ‘n jaarlikse toekenning aan hierdie organisasie vir die bewaring van die Oewerkonyn en die Karoo Eko-Skoleprojek waar leerders bewus gemaak word van omgewingsbewaring.
Sandringham
Weens die besluit van die Landbounavorsingsraad (LNR) om Bien Donné nie weer in die tydsgleuf van die SA Kaasfees aan Agri-Expo beskikbaar te stel nie, is daar na ‘n volledige ondersoek besluit om die SA Kaasfees op die Genootskap se eie perseel, Sandringham, aan te bied.
Aangesien daar nog nie vantevore so ‘n omvangryke projek op die plaas aangebied is nie, moes daar verskeie veranderinge aangebring word. As gevolg van die feit dat ‘n finale antwoord op ‘n baie laat stadium van die LNR ontvang is, moes die ontwikkelings binne ses maande plaasvind – met ‘n Desembervakansie as deel daarvan.
Weens die tipe aanbieding van die SA Kaasfees, was die eerste stap om die sentrale gedeelte van die plaas te hersoneer vanaf Landbousone 1 tot Toerisme-sonering, en om ‘n tydelike afwykingsonering van landbougrond te bekom. Die goedkeuring van hierdie soneringsaansoeke is eers aan die einde van Junie 2010 toegestaan en daar is onmiddelik met die volgende aansoek begin om permanente sonering van 5ha landbougrond vir uitstallings te bekom.
Intussen was die groot uitdaging om parkeerruimte te skep vir ‘n minimum van 2 500 motors. Onbenutte grond van 5ha is met swaar masjienerie gelyk gemaak, dreinering ingesit, besproeiing aangelê en gras aangeplant. ‘n Verdere uitdaging was die toegangsroetes na Sandringham en ‘n nuwe baksteenpad is vanaf die ingang gebou sodat daar ‘n toegewysde in- en uitbaan kon wees wat die verkeer makliker sal laat vloei. Een van die groot frustrasies was die gesloer met die goedkeuring van die nuwe toegangshek. ‘n Beperkende regulasie het veroorsaak dat die eindresultaat nie na wense is nie, en ‘n bottelnek veroorsaak. Die visuele beeld van die ingang na Sandringham is wel soos beplan is. Ander bestaande paaie op Sandringham is opgradeer, opritte na die arenas is gebou vir maklike toegang vir uitstallers en verskeie blokke trappe en egalige areas moes aangebring word om die perseel toeganklik te maak vir rolstoele. Verder is daar ook heelwat aandag gegee aan die verfraaiing van die terrein en die aanplant van bome.
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
Alhoewel die laaste bouers eers die oggend van die Kaasfees van die perseel af is, is die uitdaging voltooi, en was Sandringham gereed om meer as 31 000 lede van die publiek te ontvang.
Hiermee ook gelukwense aan al die personeel van die Genootskap wat onder baie druk moes funksioneer om Sandringham as nuwe spog venue gereed te kry.
Verder tot al die bogenoemde ontwikkelings is daar ook begin om ‘n nuwe “Cross Country Course” te vestig. Daar word tans hard gewerk om hierdie baan van internasionale standaard gereed te kry vir die 2011 Agri-Expo Perdeskou. Die baan is deur Dave Evans ontwerp wat die Olimpiese Spele-baan in 2008 ontwerp het.
Soos met enige terrein sal daar deurlopend aspekte wees wat aandag geniet of opgradeer moet word, maar die basis is gelê om Sandringham te vestig as die “Toegangsroete tot Landbou” in die Wes-Kaap.
Finansies
Die grootste risiko vir finansiële markte en die wêreldekonomie is steeds die hoë en stygende vlakke van staatskuld in die ontwikkelde ekonomieë. Europa se skuldkrisis en onsekerheid oor die globale ekonomiese toestande plaas aandelemarkte regoor die wêreld onder druk.
Dit is duidelik dat die internasionale ekonomiese omgewing ‘n geweldige impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie het. Fondsbestuurders waarsku dat die beleggingsomgewing oor die volgende 5 tot 10 jaar baie moeiliker as die afgelope dekade gaan wees en dat beleggers aansienlik kleiner opbrengste as dit waaraan hulle gewoond geraak het kan verwag.
Teen dié agtergrond is dit verblydend om terugvoer te kan gee oor die stand van Agri-Expo se beleggings. Die Genootskap se batebestuurders het met al sy beleggingsfondse die prestasie-maatstawwe bereik en die plaaslike beleggings het inflasie met gemak geklop. Die voortdurende sterkte van die rand het egter ‘n negatiewe impak op die omrekeningswaarde van die buitelandse beleggings gehad. Die rand is onnatuurlik sterk en die verwagting is dat dit sal verswak. Die portefeulje as geheel bly goed gediversifiseer tussen al die bateklasse, asook verskansingsfondse. Die fokus bly op billike en stabiele langtermynopbrengste en die vermyding van groot kapitaalverliese.





